• HOME
  • ABOUT
  • WORK
  • PROCESS
  • PRESS
  • CONTACT
Back to Press
  • Passi Winter 2009

  • Written by: Anton Smith
  • Photos by: Rian Horn
  • Philip Nel is 'n jong Bloemfonteinse skepper van droomhuise vir jong mense. Goedkoop, mooi huise wat jy kan afslaan en saamneem na 'n volgende staanplek. Die benouende ruimte van 'n woonstelletjie het Philip gedryf tot die skepping van hierdie koste-besparende sonvanger in die veld. Hoë maandelikse huur en 'n ideaal om 'n eie plek in die natuur te kan besit, het sy potlood oor die ontwerpersbladsye laat vlieg.

    Dit is nie die eerste keer dat 'n mens hierdie soort modulêre huise sien nie, maar Philip se eksperiment om met iets innoverend, uniek omgewingsvriendelik en kostebesparend vorendag to kom, staan vandag stewig.

    'Dit is baie duur om vandag te begin met jou eie eiendom. Die perseel, ontwerpe, boukoste – alles. As jy nie sterk kredietwaardigheid het of iemand wat jou 'n hupstoot gee nie, kan jy vergeet van 'n nuwe plek van jou eie. Dit is waarom ek hierdie plek ontwerp het. Ek wou bekostigbaar en in iets modern, maar tog in die natuur woon.”

    En siedaar: Waar gaan jy vandag 'n moderne huis kan laat bou vir naastenby R250 000? En dit sonder om planne in te dien of 'n bouinspekteur se goedkeuring te kry? Verder kan die woning ook uitmekaar gehaal en verskuif word. Veral gerieflik wanneer jy 'n stukkie grond huur en later van perseel wil verwissel.

    Die modulêre styl van die huis kom vanaf die voorafvervaardigde staaleenhede. Die modules word in 'n fabriek pasgemaak, waarna dit na die perseel gebring en aanmekaar gesit word. Geen bourommel of verwoeste tuine op die bouperseel nie. Dit het Philip en 'n handlanger vyf maande geneem om aanmekaar te sit. Wanneer so 'n konstruksiespan eers geolie is, sê Philip, kan dit binne 30 dae gedoen word.

    Die ankerpunte van die struktuur is so stewig dat dit die gewig van die hangende betonbadkamervloer kan dra.

    Omdat die eenhede goedkoper as hout of ander boumateriaal is, is dit ook maklik om verder uit te brei aan die huis. Bykomende vertrekke, stoepe, selfs 'n tweede verdieping kan aangebring word. Die stuktuur is goed geisoleer en omgewingsvriendelik – veral omdat daar geen skade aan die grond onder die huis aangerig word nie. Omdat die huis nêrens sigbaar aan die grond raak nie, word 'n illusie van drywing of swewing geskep. Gevolglik word waterdigtingsprobleme en barste aan die mure ook uitgeskakel.

    Philip en sy vriendin, Lisa Slegterhorst, 'n mode-ontwerper, hou van die skoon, minimalistiese gevoel van die buite- en binneontwerp. Die ontwerp is elegant, maar tog opwindend eietyds. Die droom van 'n voorstoep sorg dat die son geil deur die glaspaneeldeure wat op die stoep uitloop, inspoel.

    Binne bestaan die huis uit een groot vertrek (45m2) wat verdeel word in derdes. Hierdie ruimtes dien as 'n slaapkamer, 'n sit/eetkamer en 'n kombuisarea. Die skeiding tussen die slaapkamer en die leefvertrek is van gespande wit doeke. Dit verleen 'n lugtigheid aan die binneruimte. Byna alles binne is wit, terwyl alles buite swart is. Dit verhoog die kontras en bring mee dat die huis byna met die bome versmelt. Aan die agterkant van die huis, waar die dak die laagste afloop, is 'n instapklerekas, die badkamer en kombuis geleë. Alles netjies op 'n ry en uit die pad.

    Hoewel die binneruimte klein is, is dit nooit benouend nie. Alles is ruim, oop en haal asem.

    Ek gaan staan voor die huis wat soos 'n megafoon na my toe oopmaak en wink vir Philip nader. Ek vra hoe hy op die ontwerp afgekom het.

    “Ek is nie argitek nie. Ek is net 'n ontwerper”, antwoord hy beskeie. “'n Industriële produkontwerper, en so...” Verder bou hy ligte vliegtuie, ontwerp lieflike meubels en skep vindingryke dinge soos die.

Back to Press
  • Facebook
  • Pinterest

Inizio Homes ©2015 All rights reserved.